Verskeie ongelukke die naweek neem lewens

Foto: Jannie du Plessis

SASOLBURG. – Verskeie ongelukke het oor die naweek die Vaal getref en ‘n veertig-jarige man het sy lewe verloor in ‘n ongeluk waarin vier voertuie betrokke was.

Hier is ses van die ongelukke met ‘n gallery fotos van elke ongeluk:

*Ongeluk 1

Die ongeluk het net voor 21:00, Vrydagaand 26 Oktober gebeur toe die bestuurder van ‘n Volkswagen Jetta, wat in die rigting van Sasolburg op pad was, beheer oor sy voertuig verloor het en oor die middelstrook gery het. Hy het voor die aankomende verkeer beland. ‘n Wit Hyundai het die Jetta op sy passasierskant getref. Die Jetta het toe gerol en in die veld tot stilstand gekom. Die bestuurder van die Jetta is uit sy voertuig geslinger en is op die toneel deur paramediese personeel dood verklaar.

‘n Toyota Corolla wat agter die Hyundai was het teen hom gebots en ‘n Mercedes Benz het van agter op sy beurt teen die Corolla gebots. Twee pasiënte van die Hyundai is met ligte beserings deur ER24 ambulans na die Metsimaholo hospitaal geneem vir behandeling. Die bestuurders van die Toyota en die Mercedes was geskok maar ongedeerd.

Die Sasolburg polisie was op die toneel asook die brandweer en provinsiale ambulansdienste van Sasolburg. Die ongeluk word deur die polisie ondersoek.

*Ongeluk 2

‘n Ongeluk vroeër Vrydagaand net na 20:00 was ook op die R57 (Golden Highway) by die Shell motorhawe langs Bonanne. ‘n Renault Clio het by die stop agter in ‘n Bakkie vasgery. Die bestuurder van die Clio het net ligte beserings opgedoen en is na die hospitaal geneem vir behandeling.

*Ongeluk 3

Saterdagoggend net na 02:00 het ‘n man baie ernstig seergekry in ‘n ongeluk op die R57 onder die Vaalpark brug toe hy met sy Alfa Romeo teen die eerste en laaste kolom van die Vaalpark brug gebots het en sy voertuig gerol het. Hy het sowat honderd meter verder tot stilstand gekom. Die man was in ‘n kritieke toestand na die hospitaal geneem. Die voertuig se spoedmeter het op 180km/h stil gaan staan. Die enjin het ‘n hele ent verder gelê en onderdele was oor die hele 100m gesaai.

*Ongeluk 4

Saterdagoggend net na 05:00 het ‘n Volkswagen Touran in Frikkie Meyer boulevard tussen die Wawielbrug en die Potcherstroom pad gerol. Een van die drie insittendes is in ‘n kritieke toestand deur ER24 en Gauteng EMS paramediese personeel behandel. Hy is deur EMS na die Sebokeng hospitaal geneem. Die ander twee pasiënte is deur ER24 en EMS onderskeidelik na Sebokeng hospitaal geneem vir behandeling.

*Ongeluk 5

Saterdagaand was daar nog ‘n ongeluk op die R57 toe die bestuurder van ‘n  Ford Icon beheer verloor het en die voertuig gerol het. Van die vyf insittendes is een deur ER24 na die hospitaal geneem vir behandeling.

*Ongeluk 6

Sondagoggend ongeveer 05:00 het ‘n taxi gerol in Frikkie Meyer boulevard  net voor die Sebokeng kruising. Ses Ambulanse onderskeidelik van ER24, Gauteng EMS en Mittal het 17 pasiënte na verskillende hospitale geneem vir behandeling.

  AUTHOR
Jannie du Plessis
Journalist Photographer

Latest News

COMMENTS

Carletonville HeraldParys GazettePotchefstroom HeraldVaal Weekblad
Top